R2 CLUB

R2 klub daag ons uit om na die tragiese werklikheid van kindermolestering te kyk. Ten spyte daarvan dat so baie publisiteit aan die saak verleen word, word ons daagliks met nog erger en hartseerder gevalle gekonfronteer. Die skaduwee van die skokkende gebeure rondom baba Tshepang sal vir ewig oor die Suid-Afrikaanse landskap hang. Kindermolestering is definitief nie geïsoleerd tot sekere gemeenskappe nie. Die werklikheid is dat dit ‘n gister probleem en ’n môre probleem is in al ons gemeenskappe.

In die installasie werk speel skaduwees ’n groot rol. Die kamera en studiolig is so geplaas dat die skaduwees van die "figure" wat vir die foto poseer, op die agtergrond val sodoende word die figure deur hul skaduwees aan die agtergrond gekoppel. Die persone se optredes werp 'n donker skaduwee op die kinders se lewens. Die figure steek elkeen 'n lappop agter hul rug weg.

Op die agtergrond is ’n naskets van ’n tekening wat deur 'n dogtertjie gemaak is. Deur die skets het die onderwyseres onraad vermoed en in verdere gesprekke het dit uitgekom dat sy gedurende die voorafgaande vakansie gemolesteer is. Die skets is uiteindelik ook in die hofsaak gebruik.

Ander elemente in die installasie om na op te let, is die gesiglose lappoppe met hulle glimlaggende gesigte wat nou op die grond lê. Daar is ook 'n pop in die snippermandjie. By die installasie speel die bekende Afrikaanse liedjie "Iemand het 'n lappop op die ashoop neer gegooi".

Die installasie was so opgestel dat die besoekers in die toneel instap en dus deel word van die situasie. Gou besef hulle dat hulle eie skaduwees ook op die agtergrond val en konfronteer dit die besoeker met sy eie denke en emosies oor die saak van kindermolestering.